Wikipedia:Voorbladartikels 2026
Hierdie is die argief van al die artikels wat tydens 2026 as spogartikels op die voorblad gepryk het.
2026
[wysig bron]Week 1
101955 Benoe (internasionale naam: 101955 Bennu; voorlopige naam: 1999 RQ36) is 'n koolstofryke asteroïed in die Apollogroep wat op 11 September 1999 deur die LINEAR-projek ontdek is. Dit is 'n moontlik gevaarlike voorwerp met die hoogste kumulatiewe gevaarsyfer op die Palermo Technical Impact Hazard Scale.
Dit het 'n kumulatiewe kans van een uit 1 750 om die Aarde tussen 2178 en 2290 te tref, met die grootste risiko op 24 September 2182. Dit is genoem na Benoe, die mitologiese voël van antieke Egipte wat met die Son, skepping en hergeboorte verbind is.
101955 Benoe het 'n gemiddelde deursnee van 490 m en is die eerste keer deeglik ondersoek deur die Arecibo-sterrewag en die Goldstone-diepruimtenetwerk.
Benoe was die teiken van die OSIRIS-REx-sending wat monsters van die asteroïed na die Aarde teruggebring het. Die ruimtetuig, wat in September 2016 gelanseer is, het twee jaar later by die asteroïed aangekom en sy oppervlak deeglik gekarteer, terwyl dit moontlike gebiede gesoek het waar monsters geneem kon word.
In Oktober 2020 het OSIRIS-REx vir 'n kort rukkie geland en 'n monster van die oppervlak geneem. 'n Kapsule met die monster het na die Aarde teruggekeer en in September 2023 geland. Die verspreiding en ontleding van die monster duur voort.
Week 2
Die Belgiese nasionale rugbyspan (Duits: Belgische Rugby-Union-Nationalmannschaft; Frans: Équipe nationale de Belgique de rugby à XV; Nederlands: Belgisch rugbyteam) is die nasionale rugbyspan wat België in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in België geadministreer deur Belgium Rugby (BR) wat in 1931 gestig is. Hulle dra die bynaam “Swart duiwels”. België word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Belgiese rugbyspan is tans (Januarie 2026) 21ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.
België het in 1930 sy eerste nieamptelike toetswedstryd teen Nederland gespeel; hul eerste amptelike toetswedstryd het twee jaar later gevolg. In die daaropvolgende jare het albei spanne mekaar gereeld ontmoet. Van die ander opponente in die begintydperk was Italië en Duitsland. In 1934 was België een van die stigtingslede van die Fédération internationale de rugby amateur (FIRA; nou Rugby Europa) wat as mededinger tot die destydse eksklusiewe, Angel-Saksies oorheersde Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig is. Sedert die 2000’s het die rugbysport in België verder ontwikkel en die keurspan lok intussen gereeld skare van sowat 1 000 tydens tuiswedstryde. België speel die meeste van sy toetswedstryde tydens die Europese Rugbykampioenskap, waar hulle met ander opkomende rugbyspanne meeding. Die nasionale span se beste prestasies tot dusver is die promosie na die eerste vlak in 2010, 2014 en 2022. Hulle kon tot dusver nog nie vir ’n rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer nie; in 2025 het hulle die Rugbywêreldbeker 2027 naelskraap misgeloop ná ’n gelykop teen Samoa in die internasionale uitspeelrondte. Die Belgiese span speel tradisioneel in rooi-swart-gestreepte truie met swart broeke en swart sokkies.
Week 3
Alaska (Engels: [əˈlæskə], ⓘ; Russies: Аляска), amptelik die Deelstaat Alaska (State of Alaska), is 'n deelstaat van die Verenigde State aan die noordweskus van Noord-Amerika. Dit is die grootste deelstaat met 'n oppervlakte van 1 723 337 vierkante kilometer (wat gelykstaan aan byna 'n vyfde van die 49 ander deelstate se totale oppervlakte) – en die grootste skiereiland in die Westelike Halfrond. Alaska se hoofstad is Juneau en die grootste stedelike nedersetting is Anchorage. Die deelstaat word in die noorde deur die Arktiese Oseaan, in die ooste deur Kanada (Yukon en Brits-Columbië), in die suide deur die noordelike Stille Oseaan, en in die weste deur die Beringstraat begrens. Die bekendste byname, wat aan Alaska gegee is, is Die Laaste Landgrens (Engels: The Last Frontier) en Die Groot Land (The Great Land). Die naam Alaska is afgelei uit die Aleoetiese alaxsxaq ("die vasteland", of, volgens 'n meer presiese vertaling "die voorwerp waarop die see se handelinge gerig is").
Die eerste Europeërs het Alaska eers in 1741 begin verken toe Russiese ekspedisies hier voet aan wal gesit het – en die eerste Europese naam aan die land gegee het: Bolsjaja Zemlja of "die Groot Land" – 'n Russiese benaming wat voortleef in die Engelse bynaam The Great Land. Al het Rusland vervolgens aanspraak gemaak op die mees noordelike deel van die Noord-Amerikaanse vasteland, was Alaska onder Russiese bewind nouliks meer as 'n buitepos vir klein groepe jagters en handelaars.
Ná die Krimoorlog (1853–1856) was Rusland se staatskas leeg, terwyl ook die Russiese leër se slaankrag en vegvermoë in twyfel getrek moes word. Die Russiese kolonies in Noord-Amerika is as onverdedigbaar beskou, gegewe die aktiwiteite van ander groot koloniale moondhede soos die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State wat as mededingers in die gebied opgetree het. So was dit 'n maklike besluit vir die Russiese tsaar en sy raadgewers om die gebied op 30 Maart 1867 vir $7,2 miljoen (ongeveer twee sent per akker) aan die Verenigde State te verkoop. Ná die transaksie, wat deur die Staatsekretaris William H. Seward gehanteer is, is deur Amerikaanse media as Seward's Folly ("Seward se dwaasheid") verwys aangesien die ekonomiese waarde van die gebied destyds bevraagteken is.
Eers toe twee goudstormlope – in Juneau in 1880 en die Kanadese Yukon-gebied in 1897 – duisende delwers na Alaska laat stroom het, het die Amerikaanse publiek sy aandag op die noordelike besitting begin vestig. Die waarde van Alaska se jaarlikse goudontginning het van $800 000 in 1890 tot $9 miljoen in 1904 gestyg. Die administratiewe insluiting by die Unie was 'n langdurige proses. Van 1906 af is Alaska deur 'n verteenwoordiger sonder stemreg in die Amerikaanse Kongres verteenwoordig. Ses jaar later het die Kongres met die Wet oor die Alaskagebied (Alaska Territory) die eerste territoriale wetgewende vergadering geskep wat uit 'n laerhuis en senaat bestaan het, met agt senatore en sestien verteenwoordigers (twee senatore en vier verteenwoordigers vir elkeen van die vier geregtelike distrikte waarin die gebied destyds onderverdeel is).
Maar eers in 1959 is die politieke aspirasies van sy bewoners vervul toe Alaska as 49ste deelstaat tot die Unie toegelaat is. Die Arktiese Sirkelroete tussen die Verenigde State en Asië was gedurende die Tweede Wêreldoorlog en die Koue Oorlog van groot strategiese belang. Die permanente stasionering van militêre personeel in Alaska het grootliks bygedra tot die deelstaat se vinnige bevolkingsgroei, terwyl sy ekonomie en infrastruktuur deur federale befondsing ontwikkel is. Die ekonomiese basis is verder verstewig met die ontsluiting van groot ruolie- en aardgasvelde.
Week 4
Die Grootvorstedom Moskou (Russies: Великое княжество Московское, Welikoje knjazjhestwo Moskofskoje), of bloot Moskowië (van die Latynse Moscovia), was 'n vorstedom, of prinsdom, van Kiëf-Roes tydens die laat Middeleeue. Dit was om Moskou gesentreer en was in die vroeë moderne tydperk die voorloperstaat van die Tsaredom Rusland. Dit is regeer deur die Rjoerik-dinastie, wat sedert Kiëf-Roes se stigting die heersers was.
Die staat het ontstaan in 1263, toe die prins van Wladimir-Soezdal, Aleksander Nefski die grootvorstedom gestig het as erfdeel vir sy seun Daniël I. Moskowië was aanvanklik 'n vasalstaat van die Goue Horde wat heffings aan die khans betaal het en troepe verskaf het vir hulle oorloë.
Moskou het sy moederstaat Wladimir-Soezdal teen die 1320's oorskadu en later verskeie bure geannekseer, insluitende die Republiek Nowgorod in 1478 en die Vorstedom Twer in 1485. Dit het tot 1480 'n vasalstaat van die Goue Horde gebly totdat dit die horde verslaan het, hoewel daar gereeld opstande en verskeie geslaagde veldtogte teen die Mongole was. Een daarvan is 'n opstand wat deur Dmitri Donskoi gelei is teen die destydse leier van die Goue Horde, Mamai, in die Slag van Koelikowo in 1380.
Iwan III het die staat in die 43 jaar van sy bewind verder gekonsolideer en veldtogte gevoer teen sy grootste oorblywende teenstander, die Groothertogdom Litaue. Teen 1503 het hy sy ryk verdriedubbel. Iwan se opvolger, Wasili III, het ook militêre suksesse behaal en Smolensk in 1512 van Litaue afgeneem; hy het Moskou se grense tot by die Dnjepr verskuif. Wasili se seun, Iwan IV (later bekend as "Iwan die Verskriklike") is in 1547 gekroon en het die titel "tsaar" aangeneem. Hy het ook die Tsaredom Rusland (Царство Русcкое, Tsarstwo Roesskoje) gestig.
Week 5
Jenson Button OBE (gebore in Frome, Somerset, Engeland op 19 Januarie 1980) is 'n voormalige Formule Een-renjaer van Engeland. Hy het al vir die spanne Williams, Benetton, Renault, BAR, Honda, Brawn GP en McLaren gejaag. Sy laaste F1-wedren was die 2017 Monaco Grand Prix vir die McLaren-Honda-renspan.
Button het op die ouderdom van agt begin kartry en vroeë sukses behaal, voordat hy na motorrenne in die Britse Formule Ford-kampioenskap en die Britse Formule 3-kampioenskap gevorder het. Hy het vir die 2000-seisoen eers in F1 vir Williams gejaag. Die volgende jaar het hy oorgeskakel na Benetton, wat aan die begin van die 2002-seisoen die Renault-span geword het, en toe vir die 2003-seisoen verskuif hy na BAR. Hy het derde in die 2004 Wêreldjaerskampioenskap geëindig, voordat hy tot negende in die 2005-kampioenskap geval het. BAR is daarna herdoop en het die Honda-span geword vir die 2006-seisoen, waartydens Button sy eerste Grand Prix by die Hongaarse Grand Prix gewen het, ná 113 wedrenne.
Week 6
Helios (Grieks: Ἥλιος; Homeriese Grieks: Ἠέλιος) was in die Griekse mitologie uit die tweede geslag Titane. Hy was die verpersoonliking van die Son. Sy naam word gelatiniseer as Helius en hy word dikwels Huperion ("die een bo") en Faëton ("die skitterende een") genoem.
Helios was die seun van die Titane Huperion en Teia (Hesiodus) of Eurufaissa (Homeros) en die broer van die godinne Selene (Maan) en Eos (Daeraad). Die drie se name was ook die algemene Griekse name vir son, maan en daeraad.
Helios word dikwels in kuns uitgebeeld met 'n stralende kroon terwyl hy 'n strydwa deur die lug drywe wat deur perde getrek word. Hy was die beskermgod van ede en die god van sig. Hoewel Helios in klassieke Griekeland 'n redelik onbelangrike god was, het sy aanbidding toegeneem in die Laat Oudheid danksy sy identifikasie met verskeie groot songode van die Romeinse tydperk, veral Apollo en Sol. Die Romeinse keiser Julianus het Helios die sentrale god gemaak toe hy godsdiens in die 4de eeu n.C. vir 'n kort ruk laat herleef het.
Helios kom prominent voor in verskeie werke van Griekse mitologie, poësie en letterkunde. Sy merkwaardigste verhaal in die Griekse mitologie is dié van sy sterflike seun Faëton.
In die Homeriese eposse is sy vernaamste rol die een wat hy vertolk in die Odussee, waar Odusseus se manne sy beeste eet ondanks waarskuwings. Toe hy daarvan hoor, het Helios vir Zeus gevra om dié te straf wat hom te na gekom het, en Zeus het hulle boot met 'n weerligstraal geslaan. Almal is dood, behalwe Odusseus, die enigste een wat nie die beeste geëet het nie.
Vanweë Helios se posisie as die son is geglo hy is 'n alomteenwoordige getuie, en hy is dus in ede aangeroep. Hy het ook 'n aansienlike rol in antieke magie en towerspreuke gespeel. In kuns word hy gewoonlik uitgebeeld as 'n baardlose jongeling in 'n soort tuniek en met 'n sweep in die hand waar hy 'n wa met vier perde drywe. Hy is dikwels vergesel van ander gode, soos Selene en Eos, of die sterre.
Helios is op verskeie plekke aanbid, maar sy belangrikste kultus was op die eiland Rhodos, waarvan hy die beskermgod was. Die Kolos van Rhodos, 'n reusagtige standbeeld van die god, het die hawe van Rhodos versier totdat dit in 'n aardbewing verwoes is. Dit is daarna nie herbou nie.
Week 7
Brandenburg (Duits: [ˈbʁandn̩ˌbʊʁk] ⓘ; Nederduits: Bramborg/Brannenborg; Neder-Sorbies: Bramborska), amptelik die Deelstaat Brandenburg (Land Brandenburg, afkorting: BB; Land Brannenborg; Kraj Bramborska), is 'n deelstaat in die noordooste van Duitsland. Die administratiewe hoofstad en grootste stad is Potsdam. Brandenburg grens in die ooste aan Pole, in die suide aan die deelstaat Sakse, in die weste aan die deelstaat Sakse-Anhalt, in die uiterste weste langs 'n klein deel van die Elbe se rivierloop aan die deelstaat Nedersakse en in die noorde aan Mecklenburg-Voorpommere. Die Duitse hoofstad Berlyn, wat 'n eie deelstaat vorm, word volledig deur Brandenburg omring.
Brandenburg se wisselvallige geskiedenis word in historiese bronne gedokumenteer wat sowat tien eeue terugstrek. Die land se status en grense was voortdurend aan veranderinge onderworpe. So het Brandenburg aanvanklik as markgraafskap bestaan, om later 'n keurvorstedom, die kerngebied van Pruise en een van sy provinsies en uiteindelik 'n deelstaat van die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) te word wat reeds vyf jaar ná sy stigting in 1947 weer ontbind en in drie administratiewe distrikte – Potsdam, Frankfurt (Oder) en Cottbus – omgeskep is. Met die hereniging van Wes- en Oos-Duitsland op 3 Oktober 1990 het Brandenburg sy vorige status herwin om een van die sestien deelstate van die Federale Republiek Duitsland te word.
Brandenburg is ten opsigte van sy oppervlakte die grootste van vyf nuwe oostelike deelstate wat op die gebied van die voormalige DDR gevorm is. Sy infrastruktuur is veral op Berlyn gerig, wat soos 'n eiland in die hart van Brandenburg lê. So word na Brandenburg dikwels as 'n deelstaat sonder geografiese hartland verwys. Saam met Berlyn vorm Brandenburg die metropolitaanse gebied (Duits: Metropolregion) Berlyn-Brandenburg en ook die welvarendste nedersettings van Brandenburg is in die omgewing van Berlyn geleë. Baie voormalige bewoners van die Duitse hoofstad het hulle hier in die landelike groen gordel gevestig. Die periferie van Brandenburg word deur yl bevolkte gebiede gekenmerk, wat veral op die landbou steun, soos Prignitz, Fläming, Spreewald, Oderbruch of Uckermark. In die omgewing van die stad Cottbus in die suidooste lê uitgestrekte dagboumyngebiede, waar groot hoeveelhede bruinkool vir die termiese kragsentrales van die gebied ontgin word.
Op die oog af is Brandenburg met meer as 3 000 mere en sowat 33 000 kilometer se rivierlope een van die waterrykste deelstate van Duitsland. Maar ondanks hierdie groot hoeveelhede oppervlakwater is daar 'n tekort aan grondwater en die gebied ontvang in vergelyking met ander deelstate 'n lae reënval. Brandenburg is bowendien 'n sanderige streek waar die grond sonder aangepaste landboumetodes meestal te arm is vir intensiewe boerdery.
Week 8
Die Plesiosauria (van die Griekse πλησίος plesios, "na aan", en sauros, "akkedis"), of plesiosouriërs, is 'n orde of klade van uitgestorwe Mesosoïese seereptiele wat tot die superorde Sauropterygia behoort het.
Plesiosouriërs het in die laaste periode van die Trias die eerste keer verskyn, moontlik in die tydsnede Rhaetium, sowat 203 miljoen jaar gelede. Hulle het veral in die Jura algemeen geraak en het floreer totdat hulle in die