Gaan na inhoud

Rooikruis

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Verspreiding van onderafdelings van die Rooikruis: ██ Lande met die Rooikruis ██ Lande met die Rooihalfmaan ██ Lande met die Rooikristal - Israel, Magen David Adom, saam met die Rooi Davidster ██ Lande met die Rooi Leeu met Son - vroeër in Iran

Die Rooikruis is 'n wêreldwye hulpverleningsorganisasie waarvan die werking op sewe basisbeginsels gegrond is: mensliewendheid, neutraliteit, onpartydigheid, onafhanklikheid, vrywilligheid, eenheid en algemeenheid (ook universaliteit genoem). Hierdie beginsels vorm die grondslag vir alles wat die Rooikruis doen en word weerspieël in alle aksies van die vrywilligers van die Rooikruis.

Die Rooikruis is met ongeveer 97 miljoen vrywilligers in 186 lande die grootste humanitêre organisasie ter wêreld. Die gedagte aan 'n beweging soos die Rooikruis het op 24 Junie 1859 tydens die rumoer van die Slag van Solferino ontstaan. In hierdie slag het 400 000 soldate teenoor mekaar gestaan - Italianers, Sardiniërs en Franse aan die een kant, en Oostenrykers aan die ander kant.

Destyds was die Geneefse sakeman Henri Dunant op reis deur Italië, en hy het 'n verbysterde getuie geword van die lyding van die gewondes aan weerskante. Dunant het spontaan ingegryp. Hy het die lydendes vertroos, die gewondes verbind en ʼn laaste sluk water aan die sterwendes gegee. Bowenal het hy helpers uit die dorp Solferino gehaal, en aan hulle opdrag gegee om die gewonde vyand net soos hul eie gewondes te behandel. Die ongekunstelde Lombardiese vroue het hierdie boodskap van menslikheid begryp en geantwoord: “Siamo tutti fratelli" (Ons is almal broers).

Nadat hy in Genève teruggekeer het, het Dunant Un souvenir de Solférino ('n Herinnering aan Solferino) geskryf en dit aan alle Europese regerings gestuur. Hierdie boek het die beskaafde wêreld geskok en die mensdom tot nadenke aangespoor. Die meeste regerings het die betekenis van hierdie boodskap gesnap, en afgevaardigdes gestuur na 'n konferensie wat op 8 Augustus 1863 in Genève, Switserland, plaasgevind het.

Die konferensie is deur 26 afgevaardigdes uit 16 lande bygewoon. Reeds voor die sameroeping van die eerste Geneefse Konferensie het Dunant geesgenote gevind in vier Geneefse medeburgers: die regsgeleerde dr. Moynier, genl. Dufour en twee geneeshere, drs. Appia en Maunoir. Hulle het die “Komitee van Vyf" gestig, ʼn “komitee vir hulp aan gewondes" – die voorloper van die Internasionale Rooikruiskomitee.


Die beweging bestaan uit drie afsonderlike maar verwante dele: die Internasionale Komitee van die Rooikruis (ICRC), die Internasionale Federasie van Rooikruis- en Rooihalfmaanverenigings (IFRC) en die nasionale verenigings, waarvan daar tans 191 binne die beweging erken word. Volgens meer resente syfers dien altesaam sowat 80 miljoen mense wêreldwyd by dié drie dele, die meeste van hulle by die nasionale verenigings. Die beweging is gestig om menselewens en gesondheid te beskerm, eerbied vir alle mense te verseker en menslike lyding te voorkom en te verlig.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die eerste Geneefse Konvensie

[wysig | wysig bron]
Die "Komitee van Vyf": Gustave Moynier, Guillaume-Henri Dufour, Henri Dunant, Louis Appia en Théodore Maunoir

Die internasionale konferensie wat die komitee belê het, het van 26 tot 29 Oktober 1863 in Genève vergader om maniere te vind om die geneeskundige dienste op die slagveld te verbeter. Dit is deur 36 mense bygewoon: agtien amptelike afgevaardigdes van regerings, ses van nieregeringsorganisasies, sewe onamptelike buitelandse afgevaardigdes en die vyf lede van die komitee. Onder die besluite wat op 29 Oktober 1863 aangeneem is, was die stigting van nasionale hulpverenigings vir gewonde soldate, neutraliteit en beskerming vir die gewondes, die gebruik van vrywilligers vir hulpverlening op die slagveld, en die invoering van 'n gemeenskaplike kenteken vir geneeskundige personeel in die veld – 'n wit armband met 'n rooi kruis daarop.

Die oorspronklike dokument van die eerste Geneefse Konvensie, 1864

'n Jaar later het die Switserse regering die regerings van al die Europese lande, sowel as die Verenigde State, Brasilië en Mexiko, na 'n amptelike diplomatieke konferensie genooi. Sestien lande het altesaam 26 afgevaardigdes na Genève gestuur, en op 22 Augustus 1864 het die konferensie die eerste Geneefse Konvensie "vir die verbetering van die lot van gewondes in leërs in die veld" aangeneem, wat deur die verteenwoordigers van twaalf state en koninkryke onderteken is. Die konvensie het uit tien artikels bestaan en vir die eerste keer regsbindende reëls neergelê wat neutraliteit en beskerming vir gewonde soldate, geneeskundige personeel in die veld en bepaalde humanitêre instellings in 'n gewapende konflik waarborg.

Kort ná die aanneming van die konvensie is die eerste nasionale verenigings in België, Denemarke, Frankryk, Oldenburg, Italië, Pruise, Spanje en Württemberg gestig. In 1864 het Louis Appia en die Nederlandse kaptein Charles van de Velde ook die eerste onafhanklike en neutrale afgevaardigdes geword wat onder die teken van die rooi kruis in 'n gewapende konflik gewerk het. Die Ottomaanse regering het die verdrag op 5 Julie 1865 bekragtig, en in 1868 is die Turkse Rooihalfmaan in die Ottomaanse Ryk gestig – deels na aanleiding van die ervaring van die Krimoorlog, waarin siekte eerder as gevegte die hoofoorsaak van dood en lyding onder die Turkse soldate was. Dit was die eerste Rooihalfmaanvereniging van sy soort.

In 1867 is die eerste internasionale konferensie van nasionale hulpverenigings gehou. In dieselfde jaar moes Dunant bankrotskap verklaar weens mislukte sakebelange in Algerië, deels omdat hy sy sake vir sy werk vir die komitee afgeskeep het. Die omstredenheid daaroor, saam met 'n voortslepende konflik met Gustave Moynier, het tot sy uitsetting as lid en sekretaris gelei, en hy moes Genève verlaat sonder om ooit terug te keer. In die jare daarna is nasionale verenigings in bykans elke land van Europa gestig, en in 1876 het die komitee die naam Internasionale Komitee van die Rooikruis aangeneem, wat vandag nog sy amptelike benaming is. Vyf jaar later is die Amerikaanse Rooikruis deur die toedoen van Clara Barton gestig.

Toe die eerste Nobelprys vir Vrede in 1901 toegeken is, het die Noorse Nobelkomitee dit gesamentlik aan Dunant en die Franse pasifis Frédéric Passy gegee.[1] Meer nog as die eer van die prys self het dit Dunant se laat rehabilitasie beteken. Hy is nege jaar later in die Switserse kuuroord Heiden oorlede, net twee maande ná sy ou teenstander Moynier, wat as die langsdienende president in die geskiedenis van die komitee onthou word.

In 1906 is die Geneefse Konvensie van 1864 vir die eerste keer hersien, en 'n jaar later het die tiende Haagse Konvensie die bestek daarvan tot die seeoorlog uitgebrei. Kort voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 – vyftig jaar ná die stigting van die komitee – was daar reeds 45 nasionale hulpverenigings wêreldwyd, en die beweging het buite Europa en Noord-Amerika uitgebrei na Suid- en Sentraal-Amerika, Asië en Afrika, waaronder die Unie van Suid-Afrika.

Eerste Wêreldoorlog

[wysig | wysig bron]
Die Internasionale Krygsgevangene-agentskap in Genève tydens die Eerste Wêreldoorlog

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het die ICRC voor enorme uitdagings te staan gekom wat dit net in noue samewerking met die nasionale verenigings kon hanteer. Rooikruis-verpleegsters van oor die hele wêreld het die geneeskundige dienste van die betrokke lande se weermagte gaan help. Op 15 Augustus 1914, net ná die begin van die oorlog, het die ICRC sy Internasionale Krygsgevangene-agentskap gestig om krygsgevangenes op te spoor en die verbinding met hulle families te herstel. Teen die einde van dieselfde jaar het die agentskap sowat 1 200 vrywilligers in die Rathmuseum in Genève gehad, onder hulle die Franse skrywer Romain Rolland, wat die helfte van sy Nobelprys vir Letterkunde van 1915 aan die agentskap geskenk het. Die meeste personeel was vroue, en party van hulle – soos Marguerite van Berchem, Marguerite Cramer en Suzanne Ferrière – het hoë poste beklee.

Teen die einde van die oorlog het die agentskap sowat 20 miljoen briewe en boodskappe, 1,9 miljoen pakkies en omtrent 18 miljoen Switserse frank se geldskenkings aan krygsgevangenes van al die betrokke lande oorgedra, en danksy sy tussenkoms is sowat 200 000 gevangenes uitgeruil en na hulle tuislande teruggestuur. Gedurende die oorlog het die ICRC die oorlogvoerende partye se nakoming van die Geneefse Konvensies gemonitor en klagtes oor oortredings na die betrokke lande deurgestuur; toe chemiese wapens die eerste keer in die geskiedenis gebruik is, het dit kragtig daarteen geprotesteer. Altesaam is 524 kampe in Europa deur 41 afgevaardigdes van die ICRC besoek.

Ná die oorlog, tussen 1920 en 1922, het die ICRC die terugkeer van sowat 500 000 gevangenes na hulle tuislande gereël, waarna die taak aan die nuutgestigte Volkebond oorgedra is, wat die Noorse diplomaat Fridtjof Nansen as hoë kommissaris daarvoor aangestel het. Die komitee het in 1917 die Nobelprys vir Vrede ontvang – die enigste vredesprys wat tussen 1914 en 1918 toegeken is.[2] As regstreekse gevolg van die oorlog is in 1925 'n verdrag aangeneem wat die gebruik van verstikkende of giftige gasse en biologiese middels as wapens verbied het, en vier jaar later is die konvensie hersien en 'n tweede Geneefse Konvensie oor die behandeling van krygsgevangenes ingestel.

Voorbeelde

[wysig | wysig bron]

Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die grootste adressentrale in die wêreld in Genève ontstaan, met 7 miljoen kaarte waarop die naam, rang en kamp van die krygsgevangenes aangedui was. Slegs op hierdie manier was dit moontlik om hul naasbestaandes te verwittig van hul verblyf, pakkies aan hulle te besorg, en hulle later met die tuiskeer by te staan. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het honderde Rooikruis-treine met swaar gewondes snags oor die grense gestoom om gevangenes uit te ruil. Treine het ook uit die noorde na die suide gestoom om ondervoede kinders uit Duitsland na Switserland te vervoer, en uit Switserland weer noordooswaarts met lewensmiddele vir die hongerlydendes in Wenen.

Die bond van Rooikruisverenigings

[wysig | wysig bron]

Stap vir stap is die aantal take van die Rooikruis - wat aanvanklik net gemoeid was met die “verbetering van die lot van gewondes en siekes in oorlog op land" - uitgebrei deur nuwe konvensies. Ander soorte oorlogvoering en die beskerming van die burgerlike bevolking is in die verdrae opgeneem.

Gewondes en siekes moet versorg word, skipbreukelinge gered, krygsgevangenes en geïnterneerdes mensliewend behandel en die burgerlike bevolking beskerm word. 'n Mylpaal was die verbod op gas- en bakteriologiese oorlogvoering. Die Bond van Rooikruisverenigings is op 5 Mei 1919 in Parys gestig deur afgevaardigdes van 26 nasionale Rooi Kruis-Verenigings. Die oprigting van hierdie wêreldbond van Rooikruisverenigings is te danke aan die versterking van die Rooikruis-gedagte tydens die Eerste Wêreldoorlog.


Die gedagte vir dié bond het van Henry Davison, die destydse president van die Amerikaanse Rooikruis, gekom, en die stap het die internasionale werk van die beweging uitgebrei tot hulpverlening in noodtoestande wat nie deur oorlog veroorsaak is nie, soos natuurrampe. Die stigting van 'n tweede internasionale Rooikruisorganisasie naas die ICRC was nie sonder omstredenheid nie: die ICRC het gevrees dat 'n mededinging tussen die twee sou ontstaan en dat sy leidende posisie ondermyn word. Daarby was al die stigterslede nasionale verenigings uit die lande van die Entente, en die oorspronklike statute van Mei 1919 het aan die vyf stigterverenigings 'n bevoorregte posisie gegee en die verenigings van Duitsland, Oostenryk, Hongarye, Bulgarye, Turkye en Rusland permanent uitgesluit – in stryd met die beginsels van universaliteit en gelykheid.

Die eerste hulpsending wat die bond gereël het, was hulp aan die slagoffers van 'n hongersnood en 'n daaropvolgende tifusepidemie in Pole. Binne vyf jaar ná sy stigting het die bond al 47 skenkingsappèlle vir sendings in 34 lande uitgereik, wat altesaam 685 miljoen Switserse frank ingesamel het. Die eerste grootskaalse rampsending was ná die aardbewing van 1923 in Japan, waarin sowat 200 000 mense omgekom het. 'n Gesamentlike sending van die ICRC en die bond in die Russiese burgeroorlog van 1917 tot 1922 was die eerste keer dat die beweging in 'n interne konflik betrokke was. In 1928 is die "Internasionale Raad" gestig om die samewerking tussen die ICRC en die bond te koördineer – 'n taak wat later deur die Staande Kommissie oorgeneem is – en in dieselfde jaar is 'n gemeenskaplike statuut vir die beweging vir die eerste keer aangeneem.

Gedurende die oorlog tussen Ethiopië en Italië van 1935 tot 1936 het die bond hulpvoorrade ter waarde van sowat 1,7 miljoen Switserse frank gelewer; omdat die Italiaanse fascistiese regime enige samewerking geweier het, is dit alles aan Ethiopië besorg. Gedurende die Spaanse Burgeroorlog van 1936 tot 1939 het die bond weer met die ICRC en 41 nasionale verenigings saamgewerk, en in 1939, aan die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog, is die hoofkwartier van Parys na Genève verskuif om van die Switserse neutraliteit gebruik te maak.

Tweede Wêreldoorlog

[wysig | wysig bron]

Die Geneefse Konvensies in hulle hersiening van 1929 was die regsgrondslag vir die werk van die ICRC gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Die werksaamhede was soortgelyk aan dié van die Eerste Wêreldoorlog: besoeke aan en monitering van krygsgevangenekampe, hulpverlening aan die burgerlike bevolking en die uitruil van boodskappe oor gevangenes en vermistes. Teen die einde van die oorlog het 179 afgevaardigdes 12 750 besoeke aan kampe in 41 lande afgelê; die sentrale inligtingsagentskap het 3 000 personeellede gehad, die kaartindeks het 45 miljoen kaarte bevat en 120 miljoen boodskappe is deur die agentskap uitgeruil. 'n Groot struikelblok was dat die Duitse Rooikruis onder nasionaal-sosialistiese beheer geweier het om die Geneefse statute na te kom, terwyl die Sowjetunie en Japan nie by die konvensies van 1929 partye was nie.

Die ICRC se optrede teenoor die Holocaust is die onderwerp van aansienlike kritiek. Reeds in Mei 1944 is die komitee gekritiseer oor sy onverskilligheid teenoor Joodse lyding, en dié kritiek het ná die oorlog toegeneem toe die volle omvang van die Holocaust bekend geword het. Een verweer is dat die Rooikruis sy aansien as neutrale en onpartydige organisasie wou behou deur nie in wat as 'n Duitse binnelandse aangeleentheid beskou is, in te meng nie, en dat sy hooftaak krygsgevangenes van lande wat die konvensies onderteken het, was. Die komitee kon geen ooreenkoms met Duitsland oor die behandeling van aangehoudenes in konsentrasiekampe beding nie en het uiteindelik ophou druk uitoefen om sy werk met krygsgevangenes nie in gevaar te stel nie. Ná November 1943 het dit tog toestemming gekry om pakkies aan aangehoudenes met bekende name en plekke te stuur; op dié manier is die identiteit van sowat 105 000 aangehoudenes geregistreer en omtrent 1,1 miljoen pakkies afgelewer, hoofsaaklik aan Dachau, Buchenwald, Ravensbrück en Sachsenhausen.

Maurice Rossel, wat as afgevaardigde na Berlyn gestuur is, het die Theresienstadt-getto in 1944 besoek. Sy verslag, wat die Duitse propaganda sonder kritiek aanvaar het en verkeerdelik verklaar het dat Jode nie uit Theresienstadt gedeporteer is nie, is later as kenmerkend van die ICRC se mislukking beskryf.[3] Op 12 Maart 1945 het die president van die ICRC 'n boodskap van die SS-generaal Ernst Kaltenbrunner ontvang wat afgevaardigdes toegelaat het om die konsentrasiekampe te besoek, op voorwaarde dat hulle tot die einde van die oorlog in die kampe bly. Tien afgevaardigdes het die opdrag aanvaar; een van hulle, Louis Haefliger, het die verwoesting van Mauthausen-Gusen verhoed deur Amerikaanse troepe te waarsku. Friedrich Born, die afgevaardigde in Boedapest, het die lewens van sowat 11 000 tot 15 000 Jode in Hongarye gered, en Marcel Junod, 'n geneesheer van Genève, was een van die eerste buitelanders wat Hirosjima ná die atoombomaanval besoek het.

Die ICRC het in 1944 sy tweede Nobelprys vir Vrede ontvang, weer die enigste vredesprys wat in die hoofjare van die oorlog toegeken is.[4] Ná die oorlog het dit saam met die nasionale verenigings hulp aan die ergste geteisterde lande gereël, en in 1948 'n verslag oor sy werksaamhede van 1939 tot 1947 gepubliseer. Die argief oor die Tweede Wêreldoorlog is in 1996 geopen.

Ná die Tweede Wêreldoorlog

[wysig | wysig bron]
Die ingang van die Internasionale Rooikruis- en Rooihalfmaanmuseum in Genève

Op 12 Augustus 1949 is die bestaande konvensies verder hersien en aangevul. Na aanleiding van die ervaring van die Tweede Wêreldoorlog is 'n vierde Geneefse Konvensie "oor die beskerming van burgerlike persone in oorlogstyd" ingestel, en die aanvullende protokolle van 8 Junie 1977 het die konvensies ook op interne konflikte soos burgeroorloë van toepassing gemaak. Vandag bevat die vier konvensies en hulle protokolle meer as 600 artikels, teenoor die tien van die eerste konvensie van 1864.

Ter viering van sy eeufees het die ICRC in 1963 saam met die Bond van Rooikruisverenigings sy derde Nobelprys vir Vrede ontvang.[5] Op 16 Oktober 1990 het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies waarnemerstatus aan die ICRC toegeken – die eerste keer dat dié status aan 'n private organisasie gegee is – en 'n ooreenkoms met die Switserse regering van 19 Maart 1993 het die volle onafhanklikheid van die komitee teenoor Switserland bevestig, met regsimmuniteit vir sy lede en personeel en vrystelling van belasting.

Ná die einde van die Koue Oorlog het die werk van die ICRC gevaarliker geword: in die 1990's het meer afgevaardigdes omgekom as in enige ander tydperk van sy geskiedenis, veral in plaaslike en interne gewapende konflikte, waar die reëls van die Geneefse Konvensies en die beskermende tekens dikwels nie gerespekteer is nie. Onder die afgevaardigdes wat omgekom het, was ses wat op 17 Desember 1996 in 'n veldhospitaal in die Tsjetsjeense dorp Nowyje Atagi in hulle slaap doodgeskiet is. In 1997 het die ICRC en die IFRC die Sevilla-ooreenkoms gesluit, wat die verantwoordelikhede van die twee organisasies binne die beweging verder omskryf het, en in 2004 het die IFRC sy grootste sending tot op daardie stadium onderneem ná die tsoenamiramp in Suid-Asië, waar meer as 40 nasionale verenigings en 22 000 vrywilligers gehelp het.

Organisasie

[wysig | wysig bron]
Parade van vrywilligers in Rome.

Die Internasionale Rooikruisbeweging bestaan uit drie afdelings:

  • Nasionale Rooikruis- en Rooihalfmaanverenigings (slegs een per land)
  • Internasionale Komitee van die Rooikruis (ICRC)
  • Internasionale Federasie van Rooikruis- en Rooihalfmaanverenigings (IFRC)

Binne elke land kan een nasionale Rooikruis- of Rooihalfmaanvereniging gestig word. Hierdie vereniging vervul humanitêre take.


Die Internasionale Konferensie van die Rooikruis en die Rooihalfmaan, wat elke vier jaar vergader, is die hoogste instansie van die beweging. Dit bring afvaardigings van al die nasionale verenigings sowel as van die ICRC, die IFRC en die state wat die Geneefse Konvensies onderteken het, byeen. Tussen die konferensies tree die Staande Kommissie van die Rooikruis en die Rooihalfmaan as die hoogste liggaam op: dit sien toe op die uitvoering van en die nakoming van die konferensie se besluite en koördineer die samewerking tussen die ICRC en die IFRC. Die kommissie bestaan uit twee verteenwoordigers van die ICRC (met inbegrip van sy president), twee van die IFRC (ook met sy president) en vyf lede wat deur die konferensie verkies word, en vergader gemiddeld elke ses maande. Die Raad van Afgevaardigdes, wat elke twee jaar vergader, beplan en koördineer gesamentlike aktiwiteite van die beweging.

Internasionale Komitee van die Rooikruis

[wysig | wysig bron]
Henri Dunant, skrywer van Un souvenir de Solférino

Die amptelike sending van die ICRC as onpartydige, neutrale en onafhanklike organisasie is om die lewe en die menswaardigheid van die slagoffers van internasionale en interne gewapende konflikte te beskerm. Die kerntake van die komitee, wat uit die Geneefse Konvensies en sy eie statute voortvloei, is om:

  • die nakoming van die Geneefse Konvensies deur die oorlogvoerende partye te monitor;
  • verpleging en sorg vir dié wat op die slagveld gewond is, te reël;
  • toesig te hou oor die behandeling van krygsgevangenes;
  • te help met die soektog na vermiste persone in 'n gewapende konflik (die opsporingsdiens);
  • beskerming en sorg vir die burgerlike bevolking te reël;
  • tussen die oorlogvoerende partye te bemiddel.

Die hoofkwartier van die ICRC is in Genève en dit het kantore in meer as 100 lande en meer as 22 000 personeellede wêreldwyd, waarvan sowat 1 400 in Genève werk. Volgens die Switserse reg is die ICRC 'n private vereniging. Anders as wat dikwels gemeen word, is dit nie 'n nieregeringsorganisasie in die gewone sin van die woord nie, en ook nie 'n internasionale organisasie nie: dit koöpteer sy lede uitsluitlik uit Switserse burgers en het dus nie 'n beleid van oop lidmaatskap nie. Die woord "internasionaal" in sy naam verwys nie na sy lidmaatskap nie, maar na die wêreldwye omvang van sy werk soos die Geneefse Konvensies dit bepaal. Volgens sy statute bestaan dit uit 15 tot 25 Switserse lede wat vir tydperke van vier jaar gekoöpteer word.

Die leidende organe van die ICRC is die Direktoraat en die Vergadering. Die Direktoraat is die uitvoerende liggaam en bestaan uit 'n direkteur-generaal en vyf direkteure. Die Vergadering, waarin al die lede van die komitee sit, bepaal die doelwitte, riglyne en strategieë en hou toesig oor die finansies; die president van die Vergadering is ook die president van die komitee. Omdat Genève in die Franssprekende deel van Switserland lê, tree die komitee gewoonlik onder sy Franse naam Comité international de la Croix-Rouge (CICR) op. Die begroting van die ICRC vir 2023 was 2,5 miljard Switserse frank, waarvan die grootste deel uit vrywillige bydraes van state, nasionale verenigings en internasionale organisasies soos die Europese Unie kom.

Internasionale Federasie van Rooikruis- en Rooihalfmaanverenigings

[wysig | wysig bron]
'n Personeellid van die Turkse Rooihalfmaan hou aktiwiteite vir kinders

Die Internasionale Federasie koördineer die samewerking tussen die nasionale Rooikruis- en Rooihalfmaanverenigings van die wêreld en steun die stigting van nuwe verenigings in lande waar daar nog nie een is nie. Op die internasionale verhoog reël en lei die federasie hulpsendings ná noodtoestande soos natuurrampe, mensgemaakte rampe, epidemies en groot vlugtelingstrome. Ingevolge die Sevilla-ooreenkoms van 1997 is die IFRC die leidende agentskap van die beweging in enige noodtoestand wat nie deel van 'n gewapende konflik is nie. Dit werk saam met die nasionale vereniging van die geteisterde land, die bedryfsvereniging, sowel as met dié van ander lande wat hulp wil verleen, die deelnemende verenigings; van die 187 verenigings wat as volle lede of waarnemers tot die algemene vergadering toegelaat is, werk sowat 25 tot 30 gereeld as deelnemende verenigings in ander lande. 'n Verdere sending wat in die afgelope jare aandag geniet het, is die federasie se strewe na 'n wêreldwye verbod op die gebruik van landmyne en na mediese, sielkundige en maatskaplike steun vir mense wat deur landmyne beseer is.

Die take van die IFRC kan dus soos volg saamgevat word:

  • om humanitêre beginsels en waardes te bevorder;
  • om hulp in grootskaalse noodtoestande soos natuurrampe te verleen;
  • om die nasionale verenigings met rampparaatheid te steun deur die opleiding van vrywilligers en die verskaffing van toerusting en hulpvoorrade;
  • om plaaslike gesondheidsorgprojekte te steun;
  • om die nasionale verenigings met jeugaktiwiteite te steun.

Die hoofkwartier van die federasie is eweneens in Genève. Dit bedryf vyf streekkantore (Afrika, Amerika, Asië en die Stille Oseaan, Europa, en die Midde-Ooste en Noord-Afrika), 14 permanente streeksbyeenkantore en sowat 350 afgevaardigdes in meer as 60 afvaardigings. Die uitvoerende liggaam is 'n sekretariaat onder leiding van 'n sekretaris-generaal, terwyl die algemene vergadering – wat elke twee jaar met afgevaardigdes van al die nasionale verenigings vergader – die hoogste besluitnemende liggaam is. Tussen die vergaderings is die beheerraad die leidende liggaam. Die begroting word hoofsaaklik uit die bydraes van die lidverenigings en uit beleggingsinkomste gefinansier, met bykomende geld wat deur appèlle ingesamel word.

Nasionale verenigings

[wysig | wysig bron]

Nasionale Rooikruis- en Rooihalfmaanverenigings bestaan in bykans elke land ter wêreld en neem binne hulle eie land die pligte van 'n nasionale hulpvereniging op soos die internasionale humanitêre reg dit omskryf. Binne die beweging is dit die ICRC wat 'n hulpvereniging as 'n amptelike nasionale vereniging erken. Die voorwaardes vir erkenning staan in artikel 4 van die statute van die beweging: die vereniging moet in 'n onafhanklike staat gestig wees waar die Geneefse Konvensie van krag is; dit moet die enigste sodanige vereniging in dié staat wees en deur 'n sentrale liggaam gelei word; dit moet deur die wettige regering as 'n vrywillige hulpvereniging erken word wat die owerheid op humanitêre gebied bystaan; dit moet 'n outonome status hê; dit moet die naam en die embleem van die Rooikruis of die Rooihalfmaan ooreenkomstig die konvensies gebruik; dit moet in staat wees om die take in sy eie statute te verrig, ook die voorbereiding in vredestyd vir sy take in oorlogstyd; dit moet sy werksaamhede oor die hele gebied van die staat uitbrei; dit moet lede en personeel sonder onderskeid van ras, geslag, klas, godsdiens of politieke opvatting aanstel; en dit moet die statute en die grondbeginsels van die beweging eerbiedig.[6]

Sodra 'n vereniging deur die ICRC erken is, word dit in beginsel ook tot die Internasionale Federasie toegelaat. Vandag word 191 nasionale verenigings binne die beweging erken en is hulle lede van die federasie;[7] die jongste toevoegings was dié van die Maledive (2011), Siprus en Suid-Soedan (2013) en Tuvalu (2016). Ondanks hulle formele onafhanklikheid is elke nasionale vereniging steeds aan die wette van sy eie land gebonde, hoewel baie van hulle danksy ooreenkomste met hul regerings of afsonderlike "Rooikruiswette" uitsonderlike voorregte geniet.

Die Suid-Afrikaanse Rooikruisvereniging

[wysig | wysig bron]

Die eerste Rooikruisvereniging in Suid-Afrika is in 1896 deur die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek ingestel, en die volgende jaar het die organisasie in die destydse Oranje-Vrystaat tot stand gekom. Die S.A. Rooikruisvereniging word deur die Internasionale Rooikruiskomitee erken as die Nasionale Rooikruisvereniging wat in Suid-Afrika en Namibië funksioneer. Dit is lid van die Bond van Rooikruisverenigings in Genève.

Die hoofdoelstellings van die S.A. Rooikruisvereniging is die aanmoediging en bevordering van beter gesondheid, die voorkoming van siekte en die versagting van lyding. Die Vereniging verlig nood in geval van landswye en ander ernstige rampe, bevorder noodhulpvoorligting, tuisverpleging en ambulanswerk en maak voorsiening vir gesondheidsonderwys, -onderrig en -dienste. Die Rooikruisvereniging organiseer en lei 'n vrywillige hulpkorps op met ambulans- en verpleeg afdelings van mans en vrouens, en het 'n verpligting teenoor die Regering om 200 opgeleide mans en 200 opgeleide vrouens te lewer indien nodig; ook word Junior Rooikruis-skakels onder skoolkinders georganiseer.

Hulp aan Angoliese vlugtelinge

[wysig | wysig bron]

Die vlugtelingprobleem wat in 1975 in die noorde van Namibië ontstaan het na die onafhanklikwording van Angola, het die Suid-Afrikaanse Rooikruisvereniging voor een van die grootste uitdagings in sy geskiedenis te staan gebring.

Duisende vlugtelinge, blank en swart, het as gevolg van die burgeroorlog in Angola na Namibië gevlug, waar die owerheid inderhaas noodkampe moes inrig om die mense te huisves. Met die volle steun van die owerheid het die Rooikruis ingespring om die nood van hierdie mense te help verlig. 'n Groot insamelingsveldtog is in Suid-Afrika en Namibië van stapel gestuur, waartoe alle bevolkingsgroepe mildelik bygedra het. Danksy hierdie insameling en hulp van onder meer die Internasionale Komitee van die Rooikruis kon hulp ter waarde van minstens R 500 000 aan die vlugtelinge verskaf word.

Vrywillige Hulpkorps

[wysig | wysig bron]

Die Vrywillige Hulpkorps is nog 'n vername onderafdeling van die Rooikruis. Tesame met die ambulansafdeling, wat uit mans bestaan, vorm die Rooikruis-Verplegingsdiens in Suid-Afrika die Vrywillige Hulpkorps. 'n Rooikruis-verpleegster moet ten volle opgelei wees in Rooikruis-metodes en -beginsels. Kragtens die Verdedigingswet het die S.A. Rooikruis 'n ooreenkoms met die Regering om opgeleide personeel in noodhulp en tuisverpleging in stand te hou, wat in enige noodtoestand beskikbaar sal wees om die militêre geneeskundige dienste aan te vul.

Grondbeginsels

[wysig | wysig bron]

Die Rooikruis put sy krag uit die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Dit is liefde wat in die daad omgesit word oral waar die mensdom hulpeloos, swak, bedreig, beseer en gevange of verontreg is. Die Rooikruis se werk is gegrond op agting vir menswaardigheid, en berus op vyf grondbeginsels: dit moet neutraal en onpartydig, in die diepste sin van die woord mensliewend wees, en ook vrywillig en onafhanklik verrig word.

Waar een van hierdie grondbeginsels ontbreek, kan daar nie meer sprake wees van Rooikruis-werk in die ware sin van die woord nie. Dit is besonder belangrik dat krygsgewondes of gevangenes wat die wapen neerlê, nie meer as vyande beskou word nie; voorts, dat by die behandeling van gewondes en gevangenes geen onderskeid gemaak word op grond van nasionaliteit, godsdienstige oortuiging of ras nie. Die grondbeginsels is in 1866 vir die eerste maal toegepas in die Pruisies-Oostenrykse oorlog.


Die grondbeginsels is met verloop van tyd formeel uitgebrei. Die sewe beginsels soos hulle vandag geld, is op die 20ste Internasionale Konferensie in Wene, wat van 2 tot 9 Oktober 1965 vergader het, afgekondig en in 1986 in die amptelike statute van die beweging opgeneem:[8]

Die grondbeginsels van die Rooikruis- en Rooihalfmaanbeweging
BeginselOmskrywing
MensliewendheidDie beweging, gebore uit die begeerte om sonder onderskeid hulp aan die gewondes op die slagveld te bring, streef daarna om menslike lyding te voorkom en te verlig waar dit ook al voorkom. Sy doel is om lewe en gesondheid te beskerm en eerbied vir die mens te verseker, en dit bevorder onderlinge begrip, vriendskap, samewerking en blywende vrede tussen alle volke.
OnpartydigheidDit maak geen onderskeid op grond van nasionaliteit, ras, geloofsoortuiging, klas of politieke opvatting nie. Dit streef daarna om die lyding van mense te verlig deur uitsluitlik deur hulle behoeftes gelei te word, en gee voorkeur aan die dringendste gevalle van nood.
NeutraliteitOm die vertroue van almal te behou, mag die beweging nie in vyandelikhede kant kies of hom op enige tydstip in twiste van politieke, rasse-, godsdienstige of ideologiese aard begewe nie.
OnafhanklikheidDie beweging is onafhanklik. Die nasionale verenigings, hoewel hulle die humanitêre dienste van hul regerings bystaan en aan die wette van hul eie lande onderworpe is, moet altyd hul outonomie behou sodat hulle te alle tye ooreenkomstig die beginsels van die beweging kan handel.
VrywilligheidDit is 'n vrywillige hulpbeweging wat op geen manier deur winsbejag gedryf word nie.
EenheidDaar kan in enige land net een Rooikruis- of Rooihalfmaanvereniging wees. Dit moet vir almal oop wees en sy humanitêre werk oor die hele gebied van die land verrig.
AlgemeenheidDie beweging, waarin alle verenigings gelyke status het en gelyke verantwoordelikhede en pligte deel om mekaar te help, is wêreldwyd.

Embleme

[wysig | wysig bron]


Die Rooikruis, die Rooihalfmaan en die Rooikristal is die embleme wat amptelik deur die beweging erken word; die Rooi Leeu met Son is eweneens 'n amptelike embleem, hoewel dit in onbruik verval het. Ander lande het al vir alternatiewe tekens gepleit, maar dié is telkens afgewys uit vrees vir 'n verbrokkeling in nasionale simbole.

Die vlag van die Rooikruis moet nie met die Sint Jorriskruis verwar word wat op die vlae van Engeland, Barcelona, Georgië en verskeie ander plekke voorkom nie; om dié verwarring te vermy, word die beskermde teken soms die "Griekse rooi kruis" genoem. Waar die kruis van Sint Jorris tot by die rand van die vlag strek, doen dié van die Rooikruis dit nie. In 1906 is amptelik besluit om die gedagte te bevorder dat die vlag deur die omruil van die kleure van die Switserse vlag ontstaan het, as erkenning van die pionierswerk van Switserse burgers – onder meer om die Ottomaanse Ryk se beswaar dat die teken 'n Christelike oorsprong het, te beantwoord; geen skriftelike bewys van dié oorsprong is egter ooit gevind nie. Die Haagse konvensie van 1899 het die gebruik van die vlag tot vlootvlae uitgebrei deur te vereis dat alle hospitaalskepe, saam met hulle nasionale vlag, die wit vlag met die rooi kruis moet hys.

Die Rooihalfmaan is die eerste keer in die oorlog tussen Rusland en Turkye van 1877 tot 1878 gebruik om geneeskundige personeel te merk. Daar was in Europa 'n mate van meningsverskil oor of die gebruik van 'n halfmaan onder die Geneefse Konvensie toegelaat word: Rusland en Oostenryk-Hongarye het dit verwerp, maar die meeste ander Europese moondhede het die geldigheid daarvan aanvaar.

Die ICRC was bekommerd dat die twee bestaande tekens godsdienstige betekenisse dra wat nie in lande met 'n oorwegend Hindoe-, Boeddhistiese of Shinto-bevolking pas nie, en die destydse president Cornelio Sommaruga het in 1992 besluit dat 'n derde, meer neutrale teken nodig is. Op 8 Desember 2005 is die nuwe embleem – amptelik die embleem van die derde protokol, maar algemeen bekend as die Rooikristal – deur 'n wysiging van die Geneefse Konvensies aangeneem, deels na aanleiding van die groeiende druk om Magen David Adom, Israel se nasionale nooddiens, as volle lid van die beweging toe te laat. Die kristal dra geen politieke, godsdienstige of geografiese bybetekenis nie en stel enige land wat nie met die simboliek van die eerste twee tekens gemaklik is nie, in staat om by die beweging aan te sluit.

Die Rooi Leeu met Son-vereniging van Iran is in 1922 gestig en in 1923 tot die beweging toegelaat. Weens die verbintenis van die teken met die Iranse monargie het die Islamitiese Republiek Iran dit in 1980 met die Rooihalfmaan vervang. Hoewel die teken in onbruik verval het, behou Iran die reg voor om dit weer te gebruik, en die Geneefse Konvensies erken dit steeds.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. ↑ (en) "The Nobel Peace Prize 1901". Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Augustus 2026. Besoek op 23 Augustus 2026.
  2. ↑ (en) "The Nobel Peace Prize 1917". Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Augustus 2026. Besoek op 23 Augustus 2026.
  3. ↑ (en) Rothkirchen, Livia (2006). The Jews of Bohemia and Moravia: Facing the Holocaust. Lincoln: University of Nebraska Press. p. 258. ISBN 978-0-8032-0502-4.
  4. ↑ (en) "The Nobel Peace Prize 1944". Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Augustus 2026. Besoek op 23 Augustus 2026.
  5. ↑ (en) "The Nobel Peace Prize 1963". Nobelprize.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Augustus 2026. Besoek op 23 Augustus 2026.
  6. ↑ (en) "Artikel 4: Conditions for recognition of National Societies (hersiene weergawe van 2006)". Statutes of the International Red Cross and Red Crescent Movement. Internasionale Komitee van die Rooikruis. 1986.
  7. ↑ (en) "National Societies directory". Internasionale Federasie van Rooikruis- en Rooihalfmaanverenigings. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Augustus 2026. Besoek op 23 Augustus 2026.
  8. ↑ (en) "The Fundamental Principles of the Red Cross and Red Crescent". Internasionale Komitee van die Rooikruis. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Junie 2024. Besoek op 23 Augustus 2026.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Dannhauser, Diana: Menslikheid bring vrede. In: Suid-Afrikaanse Panorama. Jaargang 34, nr. 2, Februarie 1989. ISSN 0491-4783
  • KENNIS, 1980, ISBN 079810824X, volume 2, bl. 368, 369